Pretoria. – Die departement van handel en nywerheid kan voor die konstitusionele hof gesleep word as genoeg geld daarvoor ingesamel kan word.
Paul Janisch, ’n swartbemagtigingskonsultant, wil deur die Equitable Transformation Alliance (ETA), ’n art. 21-maatskappy wat bestaan uit sakelui en regspraktisyns, hê dié hof moet die hersiene kodes van goeie praktyk met betrekking tot breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) bekyk.
Volgens Janisch glo die ETA die hersiene kodes, wat in April volgende jaar in werking tree, is prosedureel, wetlik en grondwetlik gebrekkig en dit bedreig regsbeginsels en volhoubare ekonomiese groei.
Die ETA wil die hof nader om ’n uitspraak te kry oor die grondwetlikheid van die hersiene kodes en om te bepaal wat billike en onbillike diskriminasie is ingevolge art. 9(5) van die Grondwet.
Dié artikel handel oor gelyke regte en vryhede en bepaal dat wetgewende en ander maatreëls getref kan word vir die beskerming of ontwikkeling van mense of kategorieë mense wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.
Janisch sê die ETA is nie gekant teen BSEB nie, maar slegs teen die hersiene kodes. Hy sê die hersiene kodes maak dit onmoontlik vir enige onderneming, behalwe dié wat swart eienaarskap het, om die gewenste puntetelling te bereik wat hulle ingevolge die bestaande stel kodes sou kon bereik.
Namate ondernemings nie meer daaraan sal kan voldoen nie, kan BSEB ’n geleidelike dood sterf, waarna dit baie moeilik sal wees om dit te laat herleef.
Janisch meen die departement kon nog nie ’n aanvaarbare verduideliking gee waarom die bestaande kodes, wat tot dusver goed gewerk het en wyd gesteun is, vervang moet word nie.
In ’n brief aan Janisch sê dr. Lionel October, direkteur-generaal van handel en nywerheid, die bestaande kodes het nie genoeg transformasie meegebring nie.
Maar volgens Janisch is die hersiene kodes en regulasies onverstaanbaar en vaag, formules werk nie en definisies ontbreek. Nie eens die departement kan antwoorde daaroor gee nie, sê Janisch.
Verder maak die hersiene kodes dit volgens hom baie makliker vir frontmaatskappye om tenders te kry as wat die geval met die bestaande kodes is.
Janisch sê hoewel ETA se veldtog die steun geniet van korporatiewe en genoteerde maatskappye, is dit in die meeste gevalle net ’n klop op die skouer en ’n “hou ons op die hoogte”.
Dié ondernemings kan nie bydra tot die sowat R3 miljoen wat nodig gaan wees om die hof te nader nie omdat skenkings in hul jaarverslae aangeteken word.
Hulle wil nie daarvan beskuldig word dat hulle nie transformasie steun nie, sê Janisch, hoewel hulle moontlik die meeste by ’n hofuitspraak kan baat vind.
Comments